Lees Matteus 27:45-54 45Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? 47Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.” 48Een van hulle hardloop toe gou, vat 'n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op 'n stok vir Hom om te drink.
49Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.” 50Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. 51Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. 52Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, 53en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het. 54Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” Die wonder van die dood van Jesus is dit bring lewe! Dit bring herstel van verhoudings, ons verhouding met God en ook ons verhoudings met mekaar word genees deur Christus se Kruisdood. Jesus se dood bind mense saam, as twee vreemdes mekaar ontmoet en hulle vind dat beiede Jesus bely as Koning word hulle in 'n oomblik broers, gebind deur die dood van Jesus. Ek ken julle as gemeente maar nog swak, praat oor die foon, sien op whatsapp 'n gesig en tog is ons lankal familie deur Christus wat ons saam bring deur Sy dood. Vanoggend bel 'n persoon om my om 'n paar Bybelverse te deel, hoe kosbaar is dit! Dat ons ons geloof met mekaar kan deel en mekaar so kan opbou. Dankie! Ek plaas hierdie verse onder ons gebed vanoggend en mag julle ook daardeur gevoed en versterk word.
Dink na:
•Steek ’n kers aan en kyk ’n ruk daarna – ’n simbool van gebed, van lig wat in ’n donker wêreld en situasies skyn. Bring ’n rukkie in gebed deur en deel met God wat in jou hart aangaan en jou belewenis tot dusver.
•Blaas die kers dood. Raak bewus van die donkerte en die verlatenheid wat dit voorstel herinner jouself dat self in die donkerste van tye Jesus altyd by jou is en dat Hy verstaan.
Gebed: Klaagliedere 3:21-39.
21Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
22deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
23dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
24Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.
25Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
26dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here;
27dit is goed vir 'n mens
om sy las in sy jeug te dra.
28Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly
as God hom die las opgelê het,
29laat hy hom diep verootmoedig
– miskien is daar hoop –
30laat hy sy wang draai vir wie hom slaan,
laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.
31Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie;
32as Hy beproewing oor 'n mens gebring het,
ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot:
33dit is teen sy sin
dat Hy mense in ellende en beproewing bring.
34Dat al die gevangenes in die land
mishandel word,
35dat iemand se reg vertrap word
voor die Allerhoogste,
36dat 'n mens in 'n regsaak veronreg word –
die Here sien dit raak!
37Wie kan iets beplan, en dit gebeur,
as die Here nie die bevel gee nie?
38Is dit nie op bevel van die Allerhoogste
dat die kwaad sowel as die goeie te voorskyn kom nie?
39Wat kla 'n mens oor sy lewe?
Hy moet liewer sy sonde oorwin.
Amen
Kommentarer