Lees Markus 16:1-11
1Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem.
2Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom.
3Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?”
4Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is.
5Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle 'n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik.
6“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het.
7Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”
8Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.
Jesus verskyn na sy opstanding
(Matt. 28:9-10,16-20; Luk. 24:13-53; Joh. 20:11-29; Hand. 1:6-11)
9Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het.
10Sy het dit vir sy dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het.
11Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie.
Martin Luther het geskryf, “Die redding en ewige lewe wat Jesus Christus deur sy kruisdood en sy opstanding uit die dood bewerkstellig het, hou nie net heling in vir individue nie – dit is ook die uiteindelike vernietiging van die doodsheid in die hart van die hele menslike geskiedenis. God het die belofte van die opstanding nie net in boeke laat skryf nie, maar ook in elke lenteblaartjie.”
Ons elke Sondag opnuut omgedraai. Sondag neem ons weer terug na die leë graf en die nuwe lewe wat daar begin het. Op Sondag word die leë graf oopgeskuif, sodat ons die nuwe lewe nuut kan sien.
Ons wat ook gedurende die week soms verskrik vlug van die Goddelike opstanding en amper vir niemand iets van die wonder daarvan vertel nie, word herinner om terug te gaan, weer te gaan lees en dan te gaan vertel: “Hy is nie hier nie”. “Hy gaan julle vooruit.”
Daarom oriënteer die opstanding ons. Elke Sondag. Die eerste dag van die week. Die opstanding herinner ons aan die regte perspektief, met watter bril ons na die wêreld kan en moet kyk. Ons kyk na die wêreld, ons verwarde en verskriklike wêreld, met die bril van die opstanding.
En ons weet Jesus gaan ons vooruit. Ons sal Hom in die week sien, soos Hy vir ons gesê het.
Dink na:
· Die opgerolde linne waarin Jesus toegedraai was is ’n simbool dat Jesus uit die dood opgestaan het. Dat Sy taak klaar was.
· Wanneer ons elke keer saam die Nagmaal gebruik en ons sien en proe die brood en wyn is dit ’n viering van ons verhouding met God.
· So het ons elkeen op ’n persoonlike, intieme manier met Hom deel.
· Herinner jouself dat die Nagmaal ’n teken is dat Jesus opgestaan het.
· Dink aan alle ander verhoudings in jou lewe wat deur jou verhouding met God geraak en vernuwe word.
Belydenis vanoggend:
Hoor jy die Paasfeesklokke?
Hul lui van vroegdag af;
hul jubel oor die wêreld:
Die Heer is uit die graf!
Hy, Christus, die oorwinnaar,
is uit die donker uit!
Die Heer, die sleuteldraer,
sal ook my graf ontsluit.
Daarom bely ons vanoggend met ons hele wese:
Die Here het opgestaan!
Die Here het waarlik opgestaan!
Dood, waar is jou angel?
Doderyk, waar is jou oorwinning?
Die dood is ingesluk.
Die oorwinning is behaal!
Die Here het opgestaan!
Comments