Lees Lukas 22:54-62
31“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif.
32 Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”
33 Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”
34 Maar Hy antwoord: “Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”
54 Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op 'n afstand agterna gekom.
55 In die middel van die binneplaas was daar 'n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit.
56 'n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: “Dié een was ook saam met daardie man.”
57 Maar Petrus het dit ontken deur te sê: “Juffrou, ek ken Hom nie!”
58 'n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: “Jy is mos ook een van hulle.” Maar Petrus antwoord: “Man, ek is nie!”
59 Na verloop van sowat 'n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar, dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook 'n Galileër!”
60 Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!” En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar 'n haan gekraai.
61 Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.”
62 En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.
Ons het almal kladmerke op ons lewenstorie. Optredes waar ons vir God, ander en onsself teleurgestel het. Dinge waaroor ons skaam is. Dinge wat ons eerder wil wegsteek as ontbloot. Maar ons word deurlopend daaraan herinner deur “hane” wat kraai en ons terugneem na daardie plekke en tye.
Nou in isolasie het party van ons dalk meer tyd om na te dink en met Lydensweek om die draai, is dit nodig dat ons, onsself voorberei.
Jesus stap die Lydensweg vir ons, om ons van ons sondes te verlos om vir ons die Redding te bring, die vrymaking sodat ons kan lewe.
Mag ons in die tyd onsself ondersoek en nie wegskram van die dinge waarvoor ons vir God om vergifnis moet vra nie.
Geloofsgewoonte: Skuldbelydenis
· Word stil en vra God om jou hart te deursoek en deur Sy Heilige Gees vir jou te wys op die dinge wat jy dalk kies om te vermy.
· Gee dit oor aan die Lewende God want barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.
Gebed
Here God
Ek sit hier voor u met gemengde emosies en motiewe.
Ek verstaan myself nie aldag nie.
Die een oomblik aanbid ek U;
die volgende oomblik swaai ek my vuiste hemelwaarts en vra ek: “Waar is U?”
Die een oomblik help ek my medemens met alles in my;
die volgende oomblik kom ek iemand te na.
Die een oomblik gun ek my buurman die beste en kry ek hom jammer dat hy swaarkry;
die volgende oomblik is ek jaloers as dit met hom begin goed gaan.
Ek weet nie aldag wie ek is nie.
Maar Here, wie ek ook al is, ek weet dat ek U s’n is.
En ek dank U dat u my aanvaar, met al my teenstrydighede en komplekse mengsel van motiewe.
Daarom sal ek nie voor u sit en voorgee wat ek nie is nie, maar myself voor u oopstel.
Daarom sal ek ook nie weghardloop van u teenwoordigheid nie, omdat ek weet: in u teenwoordigheid word ek gesond.
Lê u vaderhande op my en op ons en seën my, seën ons. Amen.
Gebed deur: Richard Foster
Comments