Lees Markus 15:16-20
16Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar.
17Toe trek hulle Hom 'n pers mantel aan en vleg 'n doringkroon en sit dit vir Hom op.
18Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”
19Hulle het Hom herhaaldelik met 'n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys.
20Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.
Die Romeinse ritueel van veroordeling het nou vas gestaan. Die regter het sy uitspraak gelewer Illum duci ad crucem placet – " Die vonnis is dat hierdie man na die kruis geneem moet word." Die soldate spot met Jesus en dit is maar die begin van nog baie spot en vernedering wat sou kom. Vir die soldate was Jesus maar net nog 'n man wat moes sterf aan die kruis. Vir hulle was Jesus niemand spesiaal nie.
Hierdie bespoting van Jesus of van die geloof in Jesus is vandag nog deel van gelowiges se werklikheid. Op 'n muur in Pompeii is daar 'n tekening van 'n Christen wat kniel voor 'n donkie aan 'n kruis en onder aan staan geskryf: Anaximenes aanbid sy God. Vroeë Christene wat gespot was oor hulle geloof en Jesus wat bespot word as 'n donkie was 'n werklikheid. Ook in vandag se tyd beleef ons hoe daar met Jesus gespot word, en selfs ook met ons omdat ons glo in Hom.
Dalk laat hierdie dinge ons kwaad en opstandig voel. Dalk laat dit ons magteloos voel. Jesus se reaksie in Lukas was: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!" Jesus praat of wys nie die soldate tereg nie.
Soms moet ons die fyn geloofsonderskeiding en aanvoeling hê
om te weet wanneer om stil te bly.
Dink na:
· Dink aand die tekstuur van 'n doringkroon. Hoe moes dit vir Jesus voel toe hulle die kroon op sy kop vasdruk? Die vernedering wat Jesus moes deur gaan vir ons.
· Dink aan die stuk purperlap ’n simbool van die purperkleed wat oor Jesus se skouers gehang is en sien dit as die kleed van vernedering wat gebruik is om Hom te spot.
· Vra jouself: wat beteken dit vandag vir jou?
Lied 382 vers 1
Hoor hoe die Seun van God bespot word
deur sondaars wat hul Koning hoon.
Kyk hoe sy heerlikheid vertrap word
deur mense wat sy godheid loën.
Gebed (Lied 382 vers 4)
Heer, ons is veilig in u hande,
in stryd en lyding, pyn en nood.
U is ons hoop deur alle tye;
u liefde dra ons deur die dood.
Amen
Comments