Lees Matteus 27:32-33, Markus 15:21-22 en Lukas 23:26-27 32Toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra. 33Hulle kom toe by 'n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek. 21Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus. 22Hulle bring Jesus toe na 'n plek Golgota, wat Kopbeenplek beteken. 26Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle 'n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra. Ek het al baie gewonder oor Simon van Sirene wat Jesus se kruis moes dra. Dit is net in die Johannes evanglie waar Jesus Sy kruis self dra waardeur Johannes die klem wil lê dat God in beheer is. In Matteus, Markus en Lukas lees ons van Simon wat Jesus se kruis dra. Dit laat my dink hoe kosbaar die Liggaam van Christus is. Jesus wat op Sy Lydensweg vir ons wys dat ons ook mekaar se laste moet dra.
God roep ons en maak ons deel van 'n groter geloofsgemeenskap en ek dink juis nou in die tyd van isolasie kom ons agter hoe nodig ons mekaar het.
Daar is 'n leemte, 'n honger na die gemeenskap van gelowiges. Ons bely dit in die Apostoliese geloofsbelydenis:" ek glo aan 'n heilige, algemene Christelike kerk,'die gemeenskap van die heiliges"
Ontdek opnuut die waarde van 'n geloofsgemeenskap!
Dink na:
•Dink aan Jesus se Lyding hoe Hy geslaan was, bespot was.
•Hoe lank die stap na die kruis moes gevoel het met die wete dat die dood om die draai is.
•Die reuk van bloed in die lug, Jesus wat moeg en in pyn is.
Gebed Here, wat is ons tog werd, dat u aan ons dink? Hoe nietig is ons lewens! Hoe nietig is ons pogings om lief te hê! Hoe nietig is ons pogings om regverdig te wees! Hoe nietig is ons aansprake op sukses! Hoe nietig is ons aansprake op mag! Hoe flou is ons volharding in die geloof! Here, wat kan ons voor u sê, want in u teenwoordigheid is magtiges niks,
beroemdes asof hulle nooit bestaan het nie,
geleerdes asof hulle sonder kennis is en slimmes sonder insig.
In u lig is die meeste van ons dade selfsugtig en daarom sinloos en oppervlakkig.
Al wat ons na U kan bring is ons ontblote harte, wat soek na vergifnis, vrede en 'n woord uit u mond.
Amen.
Comments