Lees Markus 15:23-28
23Toe gee hulle Hom wyn met mirre gemeng om te drink, maar Hy het dit nie geneem nie.
24En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp oor wat elkeen moes kry.
25En dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het.
26En die opskrif van sy beskuldiging was bokant Hom geskrywe: DIE KONING VAN DIE JODE.
27Hulle het ook twee rowers saam met Hom gekruisig, een aan sy regter- en een aan sy linkerkant.
28En die Skrif is vervul wat sê: En Hy is by die misdadigers gereken.
Jesus is by die misdadigers gereken in elkeen van ons se plek. Die Een sonder sonde. God wat Homself vir Sy skepsels gee, wat ly, wat bespot word met Wie daar sommer so gehandel word.
Ons glo dit, ons bely dit en tog is aardse dinge vir ons soms belangriker. Tog is ons eie selfgerigte idees ons eie gevoelens ons eie lewe baie keer belangriker as Jesus ons Redder.
Nie nou nie Jesus ek wil net eers my eie behoeftes bevredig.
Nie nou nie Jesus, ek wil eers net geldmaak, my lewe geniet...........
Nie nou nie Jesus ek is besig........
Nie nou nie....................................................
Stilword:
· Dink aan dit wat Jesus vir jou geëindig het by die Kruis, dit wat jy daar kan agtergelaat. Dalk is dit pyn? Seer? Vrae? Worsteling? Donker gewoontes? Slegte verhoudings?
· Dink na oor die Kruis en Jesus wat in jou plek daar gehang het. Dink aan die tekens daarvan naamlik die brood en die wyn.
· Dink daaraan en glo dat Sy liggaam gebreek is tot volkome versoening van al ons sondes.
Daar waar jy sit en stilword in Gebed dink aan Jesus, jou Redder wat jou uitnooi met die Woorde:
Kom rus by My
Ek is die Brood van die lewe (Joh 6:35)
Wat jou diepste honger stil
Kom rus by My
Ek is die Lig vir die Wêreld (Joh 8:12)
Wat die donkerte uit hart en gedagtes verdryf
Kom rus by My
Ek is die Deur (Joh10:9)
Na ‘n diep oorvloedige innerlike lewe
Kom rus by My
Ek is die Goeie Herder (Joh 10:11)
Wat jou ken, omhels en my lewe vir jou aflê
Kom rus by My
Ek is die Opstanding en Lewe (Joh 11:25)
Wat jou nou nuut maak en wil laat opstaan uit jou moedeloosheid
Kom rus by My (Joh 14:6)
Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe
Wat jou na die Vader se hart neem sodat jy in Hom kan Rus
Kom rus in My
Ek is die Wingerdstok (Joh 15:5)
Waarin jy ewig geplant is om vrugte van liefde te dra...
Comments