top of page
Search
Writer's pictureandreastenekamp

9. Jesus word asyn aangebied


Lees Johannes 19:25-30

25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan.

26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”

27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”

Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

29Daar het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe 'n spons vol suur wyn op 'n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou.

Dink na:

  • Doop jou vinger in asyn en druk dit teen jou lippe. Dink aan daardie goed waarna jy soms smag, maar wat bitter smaak in jou mond.

  • Dink aan mense om jou wat dors is en waar jy dalk soms, onwetend, vir hulle ook asyn aanbied.

  • Dink aan Jesus se lyding vir jou.



KLAAR

‘n Engel het dit self gebring,

die vreugde-boodskap – en jy het

‘n lofsang tot Gods eer gesing,

Maria, nooi uit Nasaret!

Maar toe Josef van jou wou skei

en bure-agterdog jou pla,

het jy kon dink, eenmaal sou HY

die heel wêreldskande dra?

Toe jy soms met ‘n glimlag langs

Jou liggaam stryk … die stilte instaar …

wis jy met hoeveel liefde en angs

sou HY sy hellevaart aanvaar?

Die nag daar in die stal – geeneen

om in jou nood jou by te staan –

het jy geweet dat HY alléén

Getsemané sou binnegaan?

Toe vorste uit die Ooste kom

om nederig hulde te betoon,

wis jy hoe die soldate hom

as koning van die volk sou kroon?

En toe Hy in jou arms lê,

Sy mondjie teen jou volle bors,

het jy geweet dat HY sou sê,

toe dit te laat was, Ek het dors?

Toe dit verby was, en jy met

Sy vriend Johannes huis toe gaan –

Maria, vrou van smarte, het

jy toé die boodskap goed verstaan?

(Elisabeth Eybers)

Gebed: Ek bid vir die genade van insig na my diepste honger en dors en vir die vertroue om dit alles na U te bring. Dankie Here vir U lydende liefde vir my Amen.

84 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page