top of page
Search
Writer's pictureandreastenekamp

Die rugkant van God.



Lees Exodus 33

18Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!”

19Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. 20Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”

21Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is 'n plek waar jy op die rots kan staan. 22As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in 'n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. 23Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”

Agtergrond

Ons teksgedeelte volg op die bekende hoofstuk 32 wat handel oor die episode met die goue kalf. Die volk oortree deur 'n afgodsbeeld te maak wanneer Moses volgens hulle te lank op die berg talm. Deur hierdie daad van ongehoorsaamheid en ongeduld word die verhouding tussen God en die volk ernstig bedreig. As gevolg van die volk se ontrouheid is die beëindiging van die verbondsverhouding tussen God en die volk 'n werklike moontlikheid.

In hoofstuk 32 lees ons dan ook dat die Here se toorn oor die volk ontvlam en dat Hy hulle wil vernietig. Na aanleiding hiervan vind 'n merkwaardige gesprek tussen God en Moses plaas. In dié gesprek lees ons van sterk pleidooie en verrassende toegewings. Uit die gesprek blyk iets van Moses se volharding, maar bowenal sien ons iets van die karakter van die God wat die volk uit Egipte uitgelei het - die God wat genadig en goed is. Die gesprek tussen God en Moses in hoofstuk 32 en 33 is ook nou verbind met die daaropvolgende hoofstuk waar ons lees van vergifnis en verbondsherstel (vgl hfst 34 vers 10: “...Ek sluit nou 'n verbond met julle...”).

Tussen die verhaal oor verbondsverbreking (hfst 32) en verbondsherstel (hfst 34), het ons die gesprek tussen Moses en God waar niks minder as die verhouding tussen God en die volk op die spel is nie. Moses kry dit reg om God te laat afsien van sy plan om die volk te vernietig. Moses slaag nie net daarin om die Here te beweeg om sy toorn terug te hou nie, maar ook om die Here se belofte te verkry dat die Here 'n engel saam met hulle sal laat verder trek (hoewel die Here self nie verder hulle sal vergesel nie). Tog sien ons dat Moses nie hiermee tevrede is nie, daarom pleit hy verder. Van hierdie verdere pleidooi (wat die hart vorm van Moses se versoek) en die goddelike respons lees ons in ons fokusteks (verse 12 tot 23). Hieruit blyk dat Moses wil hê dat God self hulle op hulle reis vergesel.

Dit gaan dus ten diepste oor die behoefte aan versekering dat die volk aan die Here behoort.

Boodskap

Daar is 'n bekende Nederlandse spreuk wat lui: “Van het concert des levens krijgt niemand ‘n program”. Dit verwoord die vanselfsprekende waarheid dat ons nie weet wat die toekoms vir ons inhou nie. Niemand weet immers wat op die lewensreis vir hulle as indiwidue of as gesin of as kerk voorlê nie. Ons weet nie wat die uiteinde van die Coronavirus epidemie gaan wees nie. Ons weet nie in elkeen van ons eie worstelinge wat die toekoms vir ons inhou nie.

Dit is dan bloot vanselfsprekend met al die onbekende dat, die mens deur die eeue vrae vra soos: Wat bied vir ons 'n anker te midde van die onsekerheid en onstuimigheid van die lewe? Of: Waarin lê ons diepste geborgenheid te midde van al die persoonlike, sosiale en kosmiese katastrofes wat ons van hoor of beleef?


Maar ons kennis van God is ten beste indirek, en geen een van ons het volledige kennis van God van aangesig tot aangesig nie. God is altyd en vir altyd Misterie. Al wat ons sien, is die 'agterkant' van God.


Die basis van ons geloof is egter die vermoë om na ons hele verlossingsgeskiedenis te kyk en dan te vertrou dat hierdie patroon nooit sal verander nie! Dit word grootliks gebou op die feit dat geloof gevorm word - en oorgedra word na die hoop vir die toekoms. Ons kan eers ná die tyd sien dat ons tydens die moeilike tye vasgehou en gelei is. Ons roep op verskillende maniere uit na God. Dan vul God die leemte op 'n wonderbaarlike wyse


Daarom: Van die konsert van die lewe kry niemand 'n program nie. Tog glo ons dat ons nie sonder waarborge is nie. Nie omdat ons so heldersiende oor die toekoms is nie, maar omdat God in sy liefde en genade van tyd tot tyd vir ons sy rug laat sien. Hy wys ons sy toekoms. Hy herinner ons aan sy magtige dade in die verlede en gee ons so 'n kykie op sy magtige dade in die toekoms. Dit is hierdie skrefies van Sy heerlikheid wat God vir ons wys as Hy ons voed met die brood en die wyn of ons op soveel ander maniere ontmoet.


Dít maak dat ons geborgenheid op ons lewensreis kan beleef - nie omdat ons die toekoms ken nie, maar omdat ons geken word deur die Een wat die toekoms vir ons oopgebreek en verseker het aan 'n kruis. As christene glo ons dat dit juis aan die kruis is dat die goddelike Misterie sy liefdeshart die duidelikste wys. Die finale openbaring van God!


Daar sien ons in die veragte gesig van die gekruisigde die vreemde heerlikheid van God. Dit is alleen as ons in gehoorsaamheid Jesus volg dat ons hierdie veragte gesig herken as die oorwinnende Lam op die troon (vgl Openbaring 22:3,4).

Mag ons rus vind in die misterie van God.

Neem tyd vir stilword en dink na:

· In Jesus Christus loop God die pad saam met ons deur Sy Heilige Gees wat in woon. Ons is nooit alleen nie.

· In Jesus Christus is ons vaste Hoop op die toekoms. Ons het die ewige lewe.

· In Jesus Christus vind ons rus en vrede. Ons het vrymoedigheid om na God ons Vader te gaan.


Amen

87 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page