Glo ons werklik dat die Here Jesus Christus ons pyn en seerkry verstaan? Ons kan so oorweldig word met ons eie seer en benoudheid, ook nou tydens die isolasie, dat ons dalk ook in die slaggat strap om te dink God is ver en God verstaan nie waardeur ons gaan nie.
Ons is dalk eintlik kwaad vir God as ons eerlik wil wees met onsself want hoe kan God so iets toelaat? Ons weet egter diep binne ons diepste wese dat God ons ontmoet in die tye van lyding.
Die Here Jesus was volkome mens (en volkome God sonder sonde) met vrese net soos ons vir lyding. Doodsbenoud vir die pad wat Hy vir jou en vir my moes stap. Hy is God by ons. God Immanuel meer as wat ons ooit sal besef!
Lees Matteus 26:36-46
36 Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.”
37 Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword
38 en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”
39 Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
40 Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie?
41 Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”
42 'n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”
43 Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie.
44 Hy het hulle weer alleen laat bly en 'n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê.
45 Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee.
46 Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”
Geloofsgewoonte: Stilword met die Woord van God.
· Maak jou binne wêreld stil. Begin jou inleef in die tuin van Getsémané en hoe dit dalk vir jou sou gelyk het.
· Jesus het gekom sodat hoop in die wêreld sal groei. Dink aan die plek waar jy jou tans bevind en aan jou eie begeertes na hoop. Wie gee jou hoop tans? Aan wie kan jy hoop verskaf?
· Dink aan Judas wat Jesus vir dertig silwermuntstukke verraai het - ’n oomblik waar hoop verdraai is.
Gebed:
Leer my, Here, om al my lewensomstandighede vandag só te benut dat die vrug heilig sal wees en nie sondig nie.
Leer my om teleurstellings te omskep in geduld.
Leer my om sukses te omskep in dankbaarheid.
Leer my om onsekerhede te omskep in volharding.
Leer my om gevaar te omskep in moed.
Leer my om kritiek te omskep in geestelike groei.
Leer my om komplimente te omskep in nederigheid.
Leer my om versoekings te omskep in selfbeheersing.
Leer my om pyn te omskep in volharding.
In Jesus se Heilige Naam Amen
Outeur: John Baillie (1886-1960)
In ons tyd v afsondering gee hierdie ons n gevoel v ons hoort iewers.....dis nie n gebou wat oopgesluit moet word, n afspraak wat gemaak hoef te word, dis altyd daar op elkeen se eie tyd. Baie baie dankie