Goeie dag liewe gemeente ek hoop dat julle kop bo water hou met die grendelstaat waarin ons, onsself tans bevind.
Ek dink in hierdie tyd ontdek ons die waarde van die verhoudings waarin ons staan. Nog nooit het ek die skool so baie gemis nie! Om self die kinders te leer is 'n enorme uitdaging en ek dink wannneer die skole weer begin gaan onderwysers ons gunsteling persone wees!
Dalk mis ons, ons familie in die tyd. Ons kan nie by ons bejaarde ouers gaan kuier nie en meer as ooit tevore voel ons ouer mense alleen.
Ons is gemaak vir verhoudings. Heel in die begin van die Bybel sien ons dat die "Ons-wese" besluit om te skep. God sê kom ONS maak die heelal. Adam was ook nie gelukkig alleen nie en God skep die vrou.
Daar is dus niks belangriker as verhoduings nie!
In sy boek "Jesus-beginsels vir doelgerigte liefde" wys Tom Holladay vir ons op 'n praktiese manier hoe so 'n lewe lyk en ek het gedink om die idees in die boek met julle deel.
Ons eerste beginsel is natuurlik: Niks is belangriker as verhoudings nie.
In Markus 12:28-31 kry ons die samevatting van die wet wat handel oor verhoudings!
28Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle 'n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”
29Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ 31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”
32“Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie.’ 33En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”
34Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”
Niemand het dit toe meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie.
Verhoudings is pynlik en verhoudings is wonderlik. Ons almal lewe in die drama wat tussen hierdie twee waarhede afspeel. Jesus se duidelike antwoord op die vraag van die Skrifgeleerde het die vermoë om ons asem weg te slaan. Wanneer Hy hierdie twee gebooie kies as die heel belangrikste van al die Ou Testamentiese gebooie, vertel Jesus vir ons hoeveel waarde Hy heg aan verhoudings. Ons verhouding met God en met ander sal tot in die ewigheid voortduur.
Jesus weet ook dat die wisseling tussen die wonder van verhoudings en die seer van verhoudings maklik veroorsaak dat ons verhoudings eenkant toe skuif. Want wie het nou die pyn van verhoudings nodig? Ons is byvoorbeeld in vandag se tyd net nie meer lus om te werk en deur die moeilike tye van 'n huwlik te gaan nie. Nee wat, vir die ongemak sien ons nie kans nie en dan eindig ons in die skeihof.
Wanneer ons probeer om dit wat in werklikheid die heel belangrikste is minder belangrik te maak veroorsaak dit net meer verwarring. 'n Lewe sonder verhoudings mag 'n eenvoudiger lewe wees, maar virseker ook die leegste.
Die pad na die volste moontlike lewe en die grootste moontlike vreugde word gevind in die prioriteit wat Jesus ons geleer het om bo aan die lys te plaas: Heg die grootste waarde aan verhoudings.
Begin by jou verhouding met God en vanuit hierdie verhouding sal die ander vloei en werklik vervullend wees. Hoe weet ons dat ons God liefhet? Ons het Sy mense lief!
Word stil en dink aan die volgende vraag:
Het ek al vir Jesus gevra of dit waarmee ek besig is, wel die heel belangrikste is?
Mag ons die waarde van verhoudings besef, in ons gesinne, families, vriendekring, gemeente, gemeenskappe en oral waar God mense oor ons pad bring.
Gebed.
Here Jesus dankie dat u die Begin en voleinder van die geloof is. Here help ons asseblief om te bly fokus op U. Here ons weet dat ons elkeen ‘n persoonlike verantwoordelikheid het oor hoe ons lewe, Heilige Gees leer ons asseblief om u vrug te dra.
Hemel Vader wees ook asseblief met ons elkeen die week daar waar seer is daar waar moedeloosheid is. Here God gee ons die krag wat ons nodig het om nog ‘n week aan te pak. Here gaan met ons families en vriende beskerm en bewaar hulle. Here gaan ook met die leiers van ons land werk in hulle harte sodat hulle die regte besluite sal neem. Gaan ook asseblief met elke christen reg oor die wêreld die wat vervolg word help hulle om die wedloop end uit te hardloop.
Here gaan ook met die wat nog nie u Naam bely nie, maak hulle ontvangklik vir U Woord Here, sodat elke knie sal buig en elke tong sal erken dat U die Here is.
Dankie Hemel Vader vir alles wat u vir ons doen en gee. Here ons vra al hierdie dinge nie omdat ons dit verdien nie maar ons weet dat, alleen uit u liefde en genade skenk u dit aan ons. In Jesus Christus se Naam alleen Amen.
Comments